|
|
“Your legacy is every life you have ever touched” – Maya Angelou
Aan die einde van ’n jaar kyk ’n mens terug – dink na oor wat bereik is en watter positiewe verskil gemaak is. In Maya Angelou se woorde, hoeveel lewens aangeraak is, en in daardie lig sien ons die werksaamhede van die Atterbury Trust.
2018 was ’n goeie jaar. Ons hier by Atterbury Trust is oneindig dankbaar dat ons vanjaar 221 behoeftige studente kon laat studeer met befondsing vanaf Atterbury Trust. Ons verwag dat bykans 60 van hierdie studente aan die einde van die jaar gaan gradueer, wat die totale aantal Atterbury Trust graduandi tot op 420 gaan neem. Die Atterbury Foundation wat spesifiek gerig is op swart, bruin en Indiërstudente, het as deel van Atterbury se BBSEB transaksie ’n 5% belang in die Atterbury Property Fund bekom. Deur middel van die Foundation is daar nou meer geleenthede vir besighede om donasies te maak om punte vir die BBSEB telbord te verdien.
Dit was ’n hoogtepunt om saam met Coenie de Villiers en Deon Meyer die prag-Karoo Suite koffietafelboek ten bate van studiegeleenthede vir kinders van die Karoo die lig te laat sien. Die boeke verkoop fluks, maar daar is nog ’n paar boeke beskikbaar vir laaste-nippertjie Kersgeskenke. Klik hier om na die bestelvorm te gaan.
Op die Afrikaanse kultuurfront was die Lukas Maree liedjieskryfkonsert, wat in samewerking met die ATKV plaasgevind het, ’n verdere mylpaal. Aspirant liedjieskrywers is geïdentifiseer en die Afrikaanse kultuurskat is verryk. Ek kan aangaan – die Atterbury Nasionale Klavierkompetisie het meer as 40 deelnemers gehad, GrootFM 90.5 saam met die GrootOntbyt gaan van krag tot krag en die Atterbury Teater bied aand na aand produksies uit die boonste rakke aan. Geleenthede word geskep om ’n wêreldklas platform vir Suid-Afrikaanse kunstenaars te skep.
By Triomfkliniek is vir die eerste keer tandartspasïente gesien, beraderingsdienste het begin en ’n hele aantal katarak en ortopediese operasies is gratis gedoen. Ons het die voorreg gehad om Triomfkliniek se afsluitingsfunksie saam met die vrywilligerdokters, personeel en ’n aantal Triomfpasiënte wat vir velkankers behandel is, by te woon. As mens die dankbaarheid beleef en die letsels van velkanker wat behandel word, sien, besef ’n mens opnuut dat Triomf werklik ’n verskil in die gemeenskap maak – sorg met waardigheid aan die weerloses in die gemeenskap.
Ons staan dankbaar voor goeie mense wat gee en ons hande sterk maak!
Mag 2019 ’n oorvloed van nuwe geleenthede bring, mag jy betekenisvolle oomblikke beleef en ’n vreugdevolle verskil maak in die lewens van mense rondom ons. Mag elkeen van ons se positiewe aksies en lewensuitkyk ander opnuut inspireer. Mag ons die waagmoed hê om uitdagings aan te durf en wanbalanse reg te stel. En mag ons elke dag vrede in ons harte hê.
Geseënde Kersfees.
|
|
Borg ’n student en verander ’n lewe
|
|
Die Atterbury Trust beursleningsfonds het oor die afgelope 20 jaar al 615 studente gehelp om befondsing vir tersiêre studies te kry, en daar is tans 221 van hierdie studente nog besig met hul studies. Uitvoerende trustee Zahn Hulme is al van dag een af betrokke by die fonds, en staan elke jaar nederig voor die wenresultate wat hierdie hardwerkende, dankbare studente lewer as hulle net ’n kans gegun word. Dit word weerspieël in die uitsonderlike slaagsyfer van 97% van Atterbury Trust se beursstudente. Danksy die Trust se splinternuwe “Neem ’n Student Aan”–program is daar nou ’n nuwe, maklike manier vir mense wat wil help om by te dra. Zahn vertel meer…
Wat was die idee agter “Neem ’n Student Aan”?
Dit is gebore uit die besef dat, hoewel party skenkers gelukkig is om ’n anonieme finansiële bydra te maak, sommige mense graag meer persoonlik wil betrokke raak by die proses, en meer invloed wil hê op hoe hulle skenkings aangewend word. Ons vind dat mense graag spesifiek ’n onderwyser, of ’n ingenieur, of ’n dokter wil help, en as deel van hierdie nuwe program wil ons skenkers en studente by mekaar uitbring sodat albei baat. Die Trust hanteer die administrasie en monitering sodat dit vir almal pynloos is. Ons wil dit vir skenkers moontlik maak om soveel betrokke te wees soos wat hulle wil – deur byvoorbeeld ’n spesifieke student se boeke te borg, vakansiewerk of werk-skadugeleenthede aan te bied, of selfs vir die student ’n eerste werk aan te bied as hy of sy afstudeer.
Is die program gemik op spesifieke kategorieë van borge?
Ek moet eerstens benadruk dat ons groothartige en vrygewige skenkers die lewensbloed is van die fonds – dit is hulle wat dit vir ons moontlik maak om elke jaar nog ’n groep leergierige jongmense ’n hupstoot tot in die tersiëre opvoedingstroom te gee. Die fonds se langtermyn voortbestaan is afhanklik van skenkers, en dan behartig Atterbury Trust steeds die administrasie van die beursfonds en bestuur ook die ondersteunende dienste soos mentorskap van studente. Saam skep ons ’n broodnodige platform, en die wonderlike suksesverhale en hoë slaagsyfer van Atterbury Trust beursstudente bewys die werklike waarde van dit wat ons saam doen as ’n gemeenskap van mense wat omgee.
Met die Neem ’n Student Aan-program teiken ons individue, maar ook maatskappye, wat deur te kies om spesifiek by te dra aan die Atterbury Property Foundation NPC se bemagtigingsbeurse vir swart kandidate, BBSEB punte kan verdien.
En word spesifieke kategoriëe van studente geteiken?
Ons het wel spesifieke pakkette vir sekere gewilde studierigtings saamgestel, maar daar is ook ’n ope kategorie waarin die skenker ’n rigting kan bepaal. Daar is soveel leergierige en talentvolle jongmense daar buite wie se families dit net nie self kan bybring nie, en wat potensieël so baie waarde tot ons land kan toevoeg in die toekoms. En as ons dit kan verhelp, sal niemand wat bereid is om alles in te sit die kans ontneem word om sy of haar volle potensiaal te bereik nie.
|
|
Triomf kyk met dankbaarheid terug
|
|
Dit was ’n uitstekende jaar by Triomfkliniek, waar daar stappie vir stappie gevorder word om vir die behoeftige mense van Pretoria-Wes ’n wyer verskeidenheid mediese en sorg-dienste van hoogstaande gehalte aan te bied. Ons neem bestek op saam met Karin Dercksen.
’n Groot fokus die afgelope jaar was die daarstelling van tandheelkundige dienste. Hoe het dit gegaan met die jaarlikse konsert ten bate van die kliniek? Hoeveel kon julle insamel om die tandheelkundedienste ’n hupstoot te gee?
Die konsert, waar Robbie Wessels, Steve Hofmeyr en Sorina gratis opgetree het, was ’n wonderlike sukses. Ons het net-net onder R60 000 ingesamel en eindelik genoeg geld gehad om die broodnodige X-straalmasjien te kon aankoop, sodat ons vrywillige tandartse nou kan begin om pasiënte te sien. Ons is so dankbaar vir Verryn Mathlare prokureurs en die kunstenaars, wie se vrygewigheid dit moontlik gemaak het dat die volle opbrengs van die kaartjieverkope na die kliniek toe kon gaan.
Beteken dit dat die Triomf Tandheelkunde-afdeling nou volledig in aksie is?
Ons is daar! Ons het eers ’n proeflopie gedoen en drie pasiënte is gesien vir hulle eerste konsultasies. Ons het nog nie al die toerusting wat nodig is om tande te stop nie, ons kort nog die boor en ’n paar ander klein instrumente, maar die dokter kan darem al tande trek. Dr Gys de Necker en sy span van Melville in Johannesburg was weer einde November daar en daar is nou elke tweede Vrydagmiddag ’n tandarts werksaam om pasiënte te sien. Dr De Necker kom self een keer per maand en een van sy vennote hanteer die ander Vrydagmiddag.
Wat is nog nodig om Triomf Tandheelkunde heeltemal operasioneel te maak? Is daar ’n plan om dit te bewerkstellig?
Ons kort nog ’n boor en ’n borg vir die verbruiksmateriale… dit sal sowat R40 000 kos vir die finale toerusting; en dan kan ons volstoom aan die gang kom. Ons hoop om nog voor die einde van die jaar ’n borg hiervoor te finaliseer.
|
|
“Probeer en probeer weer – dís die beste geweer”
|
|
“Atterburystudente is hardwerkende studente want ons verstaan dat hierdie ’n kans is wat vir ons gegun word, ’n kans wat nie weer gaan kom nie.” Dit is die wyse woorde van 26-jarige beursalumnus Marno Grobler, wat hom nie laat ontmoedig het toe hy nie keuring vir medies gekry het nie. Na afloop van sy BSc aan Tukkies is hierdie vasbyter nou besig om hom in aptekerswese te kwalifiseer, met groot toekomsdrome om terug te ploeg en pasiënte se lewens te verbeter. Lees verder en wees saam met ons geïnspireer…
Jou Atterbury Trustbeurs het jou BSc befonds… maar dit was nie die einde van jou studiepaadjie nie, né?
Nee. Ek het besluit om my studies voort te sit en is besig met B. Aptekerswese aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie. Ek locum ook tans as ’n aptekersassistent. Ek het nog altyd ’n passie gehad om met mense te werk en wou van so lank as wat ek kan onthou, baie graag iets in ’n mediese rigting doen. Die groot gedagte was altyd om MBChB te voltooi, maar as ek nou terugkyk, is daar ’n Groot Man wat beter weet!
Vertel ons van jou gesin en waar jy vandaan kom
Ek is die jongste, het een ouer broer, wat sy eie ding doen in Marblehall, Limpopo. Moeder spandeer haar tyd by die huis en Vader is ’n bestuurder in die kleinhandel. Ek het grootgeword in Limpopo en gematrikuleer in Rustenburg in die Noord-Wes by Hoërskool Grenswag.
Hoe het jy destyds by die Atterbury Trust beurs uitgekom? Het jy vir ander beurse ook aansoek gedoen?
Om te kan antwoord moet ek teruggaan na 2009, toe my moeder ’n massiewe beroerte gehad het. Sy moes uitgebreide rehabilitasie ondergaan en eintlik weer van voor af leer eet, praat en loop. Ons het in my matriekjaar verhuis na Rustenburg, om naby die hospitaal te wees waar moeder haar rehabilitasie kon voortsit. Haar arbeidsterapeut, besig met haar gemeenskapsdiensjaar, was Chrisna Devenish. Chrisna was ook ’n beurs-alumna van Atterbury Trust, en sy het potensiaal in my gesien waarvan ek nie eers self bewus was nie.
Ek wou altyd medies swot maar het ook geweet dat daar nie geld was daarvoor nie. Ek was in ’n emosionele warboel oor my toekoms. Danksy Chrisna se hulp het ek aansoek gedoen by Atterbury Trust, die mense ontmoet, en my lewe het verander. As ek nou terugdink besef ek dat alles in ’n mens se lewe met ’n doel gebeur, selfs al is dit nie altyd op die oomblik duidelik nie. Ek weet dat as ek nie vir Chrisna ontmoet het nie, sou ek nie verder kon gaan leer het nie. Ek het net vir dié een beurs aansoek gedoen, en dit was vir my bevestigend dat God dit so wou hê.
Wie het jy eerste vertel toe jy die beurs gekry het?
Ek het eerste vir moeder vertel, dit was so ’n verligting vir ons almal.
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
Die Atterbury Teater ondergaan tydens die Desembervakansie ’n opkikkeringskuur. Ons het die storie agter die storie gekry by Jané von Linsenborgh, wat die korporatiewe funksies bestuur en ook en assistent-teaterbestuurder is.
Hoekom is daar juis nou besluit op hierdie verbeteringe?
Ons glo die Atterbury Teater is wêreldklas en daarom moet ons voortdurend vernuwe. Die teater is nou sewe en ’n half jaar oud… die mat en die stoele het baie verkeer gesien in hierdie tyd! Ons wil ook aan die voorpunt bly met elektrisiteits-effektiewe beligting en optimale benutting van ons ruimtes.
Hoe gaan die teater se nuwe baadjie lyk? Hoe omvattend is die verbeteringe?
Daar word baie gedoen! Die teater word gemoderniseer met ’n nuwe kleurpalet. Daar word ’n nuwe mat wat spesiaal vir die teater ontwerp is, gelê. Die 400 stoele word ook weer oorgetrek in drie nuwe kleure. Al die stoele word gediens – daar kom ook klein verstellings aan die stoele om meer voetspasie te skep. Waar spasie beknop was bo in die eerste en laaste rye van die gallery, word meer ruimte geskep vir die gemak van teatergangers.
Die beligting word ook gemoderniseer om meer elektrisiteits-effektief te wees, en die klankkamer word verander met optimale geriewe vir klankingenieurs.
Die foyer word vergroot, sodat daar meer tafels ingepas kan word vir konferensies; dit sal ook beteken dat daar meer beweegruimte rondom die kroegarea is. Wat die interieur van die foyer betref, maak drie nuwe kunstenaars hulle buiging – kunswerke van Karen Zoid, Coenie de Villiers en Steve Hofmeyr word by die bestaande kunstenaars wat in die teater vereer word, gevoeg.
Wie is die kontrakteurs wat die werk gaan uitvoer – is dit dieselfde mense wat destyds by die binneversiering van die teater betrokke was?
Ja, dit is oorwegend dieselfde span bekwame mense: CVN Konstruksie – Cerneels van Niekerk en sy bekwame span boukontrakteurs, Dirk en Helen Henzen argitekte, Jaco Storm is die bourekenaar, dieselfde skrynwerker van destyds en DC Elektries is verantwoordelik vir al die elektriese werk.
|
|
Ons Atterbury Trust
Beste Atterbury Trust-span
Vrydag het ek my finale uitslae ontvang en die Honneursgraad in Geoktrooieerde Rekenmeesterskap geslaag.
Ek wil julle uit die diepte van my hart bedank vir die geleentheid wat julle vir my gegee het om my studies te kon aanpak en voltooi. Ek is vir ewig dankbaar teenoor elkeen van julle. Die liefde en omgee wat julle vir elke student het is werklik iets ongeloofliks. Julle is nie net 'n bron van finansiering nie, maar 'n ondersteuningsraamwerk wat belê in elke student se lewe en toekoms. Baie baie dankie!
Julle maak 'n groot verskil in Suid-Afrika. Weereens dankie!
Vriendelike groete
Hanru de Vos
|
|
|
|
|
|
|