|
|
Met ons eerste nuusbrief van 2018 wens ek aan al ons medewerkers, donateurs en studente ’n besonder geseënde 2018 toe. Mag die positiwiteit en verwagting wat tans in die lug is, heeljaar met ons bly en mag elkeen van u geïnspireerd wees en daartoe bydra om Suid-Afrika ’n beter plek te maak vir al sy mense.
Vir die afgelope sewe jaar begin Atterbury Trust se jaar op ’n hoogtepunt met Versnit op die mooie Rust en Vrede wynlandgoed in Stellenbosch. En vanjaar was nie anders nie. ’n Groot dankie aan Jean Engelbrecht, Calvyn Hamman en die mense van Toyota en Lexus, Matthys Maree, Alexa Strachan en al die besondere kunstenaars wat opgetree het. Versnit 2018 was ’n viering van Suid-Afrikaanse talent en heerlike samesyn met die Atterbury Trust as begunstigde van ruimhartige donasies.
Ons sê baie dankie vir die Versnitgaste wat reeds meer as R1 miljoen aan die Atterbury Trust geskenk het. Lees die pragtige storie, “Waar ’n plaas sy skatte wegsteek”, geïnspireer deur Coenie de Villiers se splinternuwe lied,“Plaas”, geskryf na verlede jaar se Versnit 2017 op die einste Rust en Vrede. Kyk gerus ook na die Versnit foto’s op die skakel na die Versnit Facebookalbum en blaai gerus deur die elektroniese Versnit Herinneringsboek waar ons die Versnitstorie vertel met ’n keur van foto’s van 2012-2017.
Amper 20 jaar gelede is die eerste onderhoude vir Atterbury Trust beurslenings gedoen. Die Atterbury Trust het klein begin - net ses beurse is in 1999 toegestaan. In die opbou na volgende jaar se 20-jaar vieringe het ons weer daardie eerste ses beurshouers gaan opsoek om hulle stories te hoor. Lees in hierdie uitgawe een van daardie eerste ses, Jacomien Rousseau, se storie – sy het in 2002 as GR(SA) kwalifiseer en is vandag hoof finansiële beampte by Umalusi, die Raad vir die Versekering van Kwaliteit in Algemene en Verdere Onderrig en Opleiding, waar sy ’n groot verskil maak. Ons sit hierdie “Eerste ses” reeks verder in die volgende paar maande se nuusbriewe.
Een van ons doelwitte vir 2018 by die Atterbury Trust is om meer donateurs te werf om die Atterbury Trust se langlewendheid te verseker. Ons wil ook graag alumni studente toenemend betrek, as mentors, donateurs en potensiële werkgewers van ons huidige studente. Meer as 600 studente het reeds met die hulp van die Atterbury Trust studeer en maak vandag ’n bydrae tot SA se ekonomie. Met u hulp kan ons soveel meer doen! Ons het die infrastruktuur om die administrasie van beursbetalings, nagaan van uitslae asook mentorskap van studente te behartig. Vertrou u donasie aan ons toe en verander ’n behoeftige student se lewe vir altyd. Donasies is belastingaftrekbaar.
Dis altyd lekker om al die eindeksamenuitslae terug te kry en sukses te vier. Ons kan met trots aankondig dat 50 nuwe graduandi met die hulp van Atterbury Trust hulle grade in 2017 behaal het. Hierdie studente het hard gewerk, vasgebyt, #feesmustfall oorleef en besondere prestasies behaal. Ons spog bietjie met hulle in hierdie Omgeenuus!
|
|
Die Klas van 2017 – ’n uitsonderlike oesjaar!
|
|
Dit is in 2018 reeds 20 jaar sedert ons vir die eerste keer beursonderhoude gedoen het, en ons het nie in ons wildste drome verwag dat ons eendag op soveel uitstekende studenteprestasies sal kan terugkyk nie. Die Klas van 2017 was ontsettend sterk, en ons is geweldig trots op die 50 jongmense wat verlede jaar graad gekry het na hul ’n paadjie saam met Atterbury Trust geloop het. Zahn Hulme en Leonie du Preez neem die jongste groep graduandi in oënskou.
Vyftig nuwe grade! Dis baie gradeplegtighede vir julle om by te woon – hoe hanteer julle dit?
Ons wag vir kleurvolle fotos en sal daarmee spog op al ons platforms, so hou hierdie spasie dop! Ongelukkig is dit nie moontlik om al die plegtighede self by te woon nie…
Wat was die mees gewilde grade?
Die gunsteling graad was B Com; daar is 17 van hulle behaal. Onderwys was ook baie gewild, met ses grade behaal. Twee mediese dokters het graad gevang, en drie ingenieurs gaan Suid-Afrika ‘n beter plek maak!
Was daar iets wat die Klas van 2017 laat uitstaan? Hoe sou julle hulle beskryf?
Die studente wat in 2017 graad behaal het, het verseker uithouvermoë. Hulle het #feesmustfall oorleef waar verskeie universiteite vir ’n geruime tyd gesluit was. Hierdie studente het steeds ’n plan gemaak en “aanlyn” klas-klas gespeel. Van hulle het by vriende se huise met die onderskeie dosente ge-Skype, en so het hulle vraestelle uitgewerk, en steeds hulle take en eksamens voltooi. Die Klas van 2017 staan ook uit wat akademiese prestasie betref – drie van hulle het toekennings as topstudent by hul onderskeie universiteite gekry.
Julle help ook in uitsonderlike gevalle soms ’n hoërskool-leerder met ’n beurs – was daar in hierdie groep so iemand? En indien wel, het hy of sy ook ’n studiebeurs gekry om tersiëre studies te begin?
Ja, daar was; Jolene Pretorius het soveel talent, en het nie haar moeilike omstandighede tuis in haar pad laat staan nie. Sy het werklik die meeste gemaak van die geleentheid wat sy gekry het om by Afrikaans Hoër Meisieskool skool te gaan. Wat haar situasie uniek maak is dat sy naweke nie elektrisiteit gehad het nie, en steeds doelgerig gebly het om take en voorbereiding vir haar studies te doen. Sy het haar matriek goed geslaag en gaan vanjaar regte studeer by die Universiteit van Pretoria, as ’n Atterbury Trust-beursstudent.
|
|
Atterbury Trust se beursfonds is in 1999 gebore, net voor die draai van die millennium. Daardie eerste jaar is ’n klein groepie van net ses behoeftige studente onder die Trust se vlerk geneem. Dit was ons belegging in die toekoms met die hoop dat ons ’n netwerk van vasberade, talentvolle presteerders kon help bou wat op die lang duur ons land en ekonomie sal bevoordeel. Vir byna 20 jaar is hierdie netwerk stadig maar seker aan die groei. Vandag begin ons met ’n reeks waarin ons gaan besoek aflê by ons beursalumni, om te sien hoe ver hulle gekom het. Ons skop af met Jacomien Rousseau, een van daardie Eerste Ses.
Kan jy onthou hoe jy destyds by die beurs uitgekom het? Het jy destyds enige ander opsies gehad vir tersiëre studie?
Dit was soos enige gewone dag by Hoërskool FH Odendaal, toe Juffrou Febe Streicher die briefie in my hand stop en sê: “Bel dié maatskappy; hulle kan dalk vir jou ‘n beurs gee om te gaan studeer.”
Die kans moes ek aangryp met beide hande – my familie kon my ongelukkig nie universiteit toe stuur nie en ek sou my eie potjie moes krap….
Met die onderhoud was ek natuurlik op my senuwees, maar dit het goed gegaan en was uit my vel toe na die tyd in kennis gestel word dat ek gekies is!
Ons was die eerste groep Atterbury Trust beursstudente; en ek was een van daardie heel eerste ses wie se lewens vir altyd verander is.
Wat was jou studiedroom destyds, en hoe het die beurs jou gehelp?
My mikpunt was om ’n geoktrooieerde rekenmeester, GR(SA) te word. Om dit te behaal het ek in in 1999 begin met B Com Rekenkundige Wetenskappe by die Universiteit van Pretoria, wat ek opgevolg het met ’n B Com Honneurs in Rekeningkundige Wetenskappe, en ’n sertifikaat in die Teorie van Rekeningwetenskappe (STR). Ek was vir al vier jaar ’n beursstudent, wat my in staat gestel het om voltyds te swot. Daarna was die eindstreep in sig met die drie jaar klerkskap en twee raadseksamens wat voorgelê het!
En op watter draaie het jou beroep, en die lewe, jou sedertdien geneem? Waar bevind jy jou vandag?
In 2003 het ek met my klerkskap begin by Logista GR(SA) Ingelyf, ’n medium-grootte praktyk in Brooklyn. Na my drie jaar klerkskap is ek getroud, en Logista het my ook die kans gegee om vir ’n paar maande in Boston, Massachusetts te gaan werk. Ek is na bestuurder bevorder, en ’n jaar later na assosiaat, en het baie geleer oor die beplanning en bestuur van die praktyk. In 2008 het ek ma geword van ’n seuntjie.
Ek het die firma, die mense en die werk geniet, maar teen 2009 wou ek ’n nuwe uitdaging hê, so ek het Logista verlaat en as hoofrekenmeester begin by my eerste publieke entiteit, Council on Higher Education. Publieke entiteite is semi-staatsorganisasies wie se mandaat met wetgewing te doen het. By CHE is ek later bevorder na hoof-finansiële beampte (CFO).
In 2010 het ons gesinnetjie ook gegroei – dié keer met ’n dogtertjie. In 2012 het ek as senior bestuurder aangesluit by die Council for Medical Schemes, waar ek sommer dadelik welkom gevoel het omdat een van my mede-beursalumni reeds daar gewerk het! Dit was ’n besonderse professionele span en ek het aan groter projekte gewerk as as ooit tevore.
Ek is sedert 2016 by Umalusi, die Raad vir die Versekering van Kwaliteit in Algemene en Verdere Onderrig en Opleiding, eers as finansiële direkteur en tans, hoof-finansiële beampte (CFO).
Ek voel ek maak ’n bydra tot die ekonomie van Suid Afrika. Ons entiteit streef na koste-effektiewe dienslewering van ons mandaat met goeie korporatiewe bestuur in plek. Met ’n liefdevolle eggenoot wat jou ondersteun in jou doelwitte en ambisie is alles moontlik!
|
|
Gebruik PayFast om maklik aan Atterbury Trust te skenk. Klik hier om ’n bydrae te maak. Meer inligting oor PayFast.
|
|
Versnit, die jaarlikse Januarie musiekkonsert in die Stellenbosse wynlande, is ’n hoogtepunt op Atterbury Trust se kalender. Vanjaar was reeds die sewende jaar van hierdie uitmuntende musiekaand wat ten bate van die Trust by Jean Engelbrecht se pragtige Rust en Vrede landgoed gehou word. Die gaste het elkeen as ’n geskenk ’n gedenkboek ontvang wat die hoogtepunte en spesiale oomblikke van die vorige ses jaar in woorde en foto’s vasvang.
“Versnit het ’n wonderlike tradisie geword van heerlike samesyn met mooi musiek en lekker kos en wyn in ’n wonderskone omgewing,” sê uitvoerende trustee Zahn Hulme. “Maar die heel mooiste hiervan is hoe die gaste hul hande diep in hul sakke steek om die Trust te ondersteun… Ons is elke jaar so oorweldig deur die ruimhartigheid; die gemeenskap van Versnit maak dit vir die Trust moontlik om ’n verskil in soveel behoeftige mense se lewens te maak. Daarvoor wil ons weer vir Jean Engelbrecht met sy groot hart vir liefdadigheid en Afrikaans baie dankie sê dat hy sy pragplaas met ons almal deel. Ook aan Calvyn Hamman van Toyota vir hulle borgskap om die aand moontlik te maak.”
Vanjaar se konsert het soos die tradisie dit wil hê, ’n keur van die beste Afrikaanse musiektalent byeengebring vir ’n uitsonderlike aand teen die agtergrond van die wingerde. Jo Black, Elvis Blue, Coenie de Villiers en Deon Meyer, Riana Nel, Theuns Jordaan en Steve Hofmeyr het die gaste vermaak, onder begeleiding van Matthys Maree en dieselfde talentvolle orkes wat al van Jaar Een af by Versnit optree.
“Ons sê elke jaar dit kan nie nog beter nie, maar dan is dit weer so uitstekend dat dit jou asem wegslaan,” skryf die gereelde gas Leeba Fouche van Windhoek in die gedenkboek. “Versnit het ons ook weer tot die besef gebring hoe talentvol Afrikaanse kunstenaars is.”
Oor die afgelope sewe jaar het bykans elke groot Afrikaanse kunstenaar ’n draai gemaak op die Versnitverhoog, baie van hulle herhaaldelik, en daar is selfs ’n bietjie internasionale Afrikaans-liefde ingemeng in die vorm van die Belgiese sanger Stef Bos. Sedert 2014 word daar ook ’n spesiale Versnittoekenning aan ’n ikoniese Afrikaner oorhandig om hul bydrae tot die Afrikaanse kultuurskat te vier, en vanjaar het Deon Meyer die vyfde ontvanger geword ná PG du Plessis, Laurika Rauch, Coenie de Villiers en Riaan Cruywagen.
|
|
’n Nuwe jaar, en sowat 70 nuwe universiteits- en kollege-studente het pas ’n nuwe akademiese jaar aangepak met die hulp van Atterbury Trust se beursprogram. Heelwat van hierdie jongmense sou glad nie verder kon studeer as dit nie vir die beurs was nie. Dylan Smit se moeilike agtergrond as die oudste kind uit ’n gesin verwoes deur verslawing, was soos ’n spreekwoordelike berg in sy pad, maar op 21 gaan hy vanjaar die eerste tree gee op die pad na sy tegnologie-droom.
Hoe het jy van Atterbury Trust se beursprogram gehoor?
In my soeke om te studeer, het ’n vriend my van Atterbury Trust vertel, en ek was so gelukkig om aanvaar te word vir ’n beurs.
Ons het die seer nuus verneem dat jou ouers albei deur dwelms ingesleur is – wat het van julle kinders geword?
Dwelms het my pa se dood veroorsaak toe ek net 10 jaar oud was en my twee boeties nog nie ’n jaar oud nie. Ek bly van toe af by my ouma, want my ma is steeds met dwelms en daardie slegte dinge betrokke. Ons het nie ‘n groot genoeg inkomste om na haar te kan omsien nie; sy bly op straat. Ek het haar so agt maande gelede laas gesien…. My boeties bly by my stiefma in Johannesburg, maar omdat hulle so ver is, het ek ook nie regtig baie kontak met hulle nie.
Hoe het jy die mas opgekom? Wou jy ooit moed verloor?
Ek het nie regtig heeltemal die mas opgekom nie. Maar wat my help, is die gedagte dat ek daar deurgekom het en dat probleme in die toekoms makliker hanteerbaar sal wees. Mens voel soms maar moedeloos, maar ek sal nie moed opgee en toelaat dat dit my onderkry nie, want ek weet ek is sterker as dit en God maak ’n pad oop vir my. Kyk nou maar na Atterbury Trust en die beurs – dit is net nog ’n pad wat God vir my oopmaak na ’n better lewe vir my en my afstammelinge eendag.
|
|
’n Nuwe vennootskap wat werk
|
|
Toe die Atterbury Trust bykans 20 jaar gelede sy eerste beursstudente ingeneem het, het niemand ooit kon dink hoe ver die beursfonds se reikwydte mettertyd sou strek nie. Uitvoerende trustee Zahn Hulme vertel hoe wonderlik dit was toe Dis-Chem onlangs na die Trust uitgereik het omdat dié apteekreus geleenthede het vir skoolverlaters en gegradueerdes, en weet dat Atterbury altyd op die uitkyk is vir ontwikkelingsgeleenthede vir sy beursstudente.
“Ons kry jaarliks soveel meer aansoeke as wat ons begroting ons toelaat om in te neem, en dit is so moeilik om mense te moet wegwys, want daar is so baie talent daarbuite. Dis net eenvoudig fantasties om nog ’n opsie vir ’n hoopvolle kandidaat te kan aanbied as ons dalk nie kan help nie,” vertel Hulme. “’n Maatskappy so groot en divers soos Dis-Chem het ‘n verskeidenheid van geleenthede vir internskappe, en dit is vir ons ’n groot eer dat so ‘n groot maatskappy ons nader om indirek met werwing te help. Almal wen in hierdie situasie.”
En volgens Kim Painter van Dis-Chem is die kandidate wat tot dusver deur Atterbury verwys is, besonder sterk, sonder twyfel omdat Atterbury se eie keuringsproses so deeglik is.
Vertel ons meer van Dis-Chem se ontwikkelingsprogram? Wat is die oogmerke, hoeveel geleenthede het die groep jaarliks, en waarvoor lei julle mense alles op?
Dis-Chem bied twee verskillende programme aan: leerlingskappe en internskappe.
Met die leerlingskappe is die oogmerk om jongmense op te lei vir toekomstige leierskapposisies in die Dis-Chem-winkels. Die kandidate voltooi ’n kleinhandel-kwalifikasie (retail). Hiermee fokus ons meer op gehalte as getalle, so ons het nie mikpunte vir spesifieke getalle nie, ons maak liewer seker ons werf werklik goeie kandidate met groeipotensiaal.
Dan bied ons ook internskappe vir mense wat reeds ’n tersiêre kwalifikasie het. Die doelwit is om meer mense met die nodige vaardighede in die bedryf in te lyf, veral in areas waar daar tans ’n skaarsste is – dit kan insluit bemarking en verkope, kleinhandelsbestuur, kliëntediens, gesondheidsrigtings, “technical compliance”, logistiek, ensomeer.
Waar werf julle gewoonlik kandidate vir die program, en hoe gereeld werf julle?
By skole en universiteite, en ons adverteer in koerante en op Facebook. Ons werf gewoonlik drie keer per jaar.
|
|
Ons Atterbury Trust
Beste Zahn & Atterbury-span
Ons wil graag vir Atterbury Trust opreg dankie sê vir jul voortgesette ondersteuning. Dankie vir ’n ongelooflike 2017-feesjaar!
Aardklop is Donderdagaand vereer met die kykNET Fiëstas-toekenning: Gewildste Kunstefees. Sonder julle as ons vennoot sou dit regtig nie moontlik gewees het nie!
Weereens baie, baie dankie.
Ons sien uit na nog ‘n suksesvolle fees in Oktober.
Vriendelike groete,
Delmari van Zyl, Aardklop
|
|
|
|
|
|
|